Popular Posts

Saturday 7 April 2012

Jeremiades

Ag nee wat. Weet jy, genoeg is genoeg. Hierdie afgelope paar weke is sommer net 'n foltering van formaat. Eintlik sommer net kak. Regtig.

Kom ons begin op 'n punt. Die boerdery gaan bietjie-vir-bietjie agteruit, maar mens pas mos maar aan so. Die huis val elke maand so klein bietjie meer uitmekaar uit, die erf raak al hoe meer bosserig en die grasperk al hoe meer kollerig, maar soos wat die mens nou maar is, raak die skille op die oë maar al hoe dikker. Skille is so. Hoe minder skille in die beursie, hoe meer skille op die oë.

Tot alles op een slag gebeur.

Ek was nog nooit gepla met geld nie. Dis heerlik om te hê en haatlik om nie te hê nie, maar ek het nog nooit iemand gemeet aan sy bankbalans nie. So ploert ons vrolik voort, definitief nie ryk nie (nie eers middelklas nie!), maar verseker ook nie gedompel in ellende nie. En dis okay!

Tot ALBEI karre breek. En dìt op 'n maand wat daar soveel goed is om te betaal dat die salaris al op is VOOR DIE MAAND BEGIN. En dit kry nie einde nie! Nou was ek al vantevore op my voete gehelp en glo my, my agterstewe kan beslis weer doen met die oefening. Die probleem is net dat ek hierdie keer regtig te ver van die huis af werk om te stap. En busgeld is daar nie.


  • Die twee slaapkamers in die huis se plafonne val in, reg voor Kersfees.
  • Die volvloermat in die hoofslaapkamer word (10jaar te laat) uitgeruk. Houtvloer moet geskuur word, maar plekke wat industriële skuurders uithuur is toe. Vloer vat dus weke met handskuurdertjie en manlief wat nie lus het nie.
  • Verf en vloerseëlaar word 2 weke later afgelewer as belowe.
  • Vakansie reeds verby en ek slaap steeds op die vloer. Rug en knieë protesteer daagliks. Moer raak al hoe korter oor huis nie klaarkom nie.
  • Ons word deur 'n vlooiplaag getref. Duisende en duisende rande EN NIKS HELP NIE. Dip die honde elke week. Spot on. Karbadust. Goedkoop goed. Duur goed. Boererate. Ons lewe word oorgeneem deur die pestilensie!
  • My kat word uitgesit. Die afgelope paar maande was vir haar baie moeilik - vir my ook. Haar misnoeë oor dinge was duidelik. Ek het permanent geskrop aan alles wat deurgeloop het onder haar 'bodily functions'. Maar my hart nog steeds stukkend...
  • Werksure is verkort. Salaris HEELWAT minder.
  • 'n Paar dinge wat ek liewers nie sal bespreek nie, maar wat al maande aansleep en my knorriger en knorriger maak...
  • Kar nr.1 breek. Geweldige skade.
  • Kar nr.2 se band kry op een of ander manier 'n afgebreekte boorpunt. Band word gelap, maar hou net twee dae. Ek reeds bankrot, hou duim vas die kredietkaart gaan deur en betaal deur my ore om die band WEER te laat regmaak en wielsporing.
  • Kar nr.2 skielik net morsdood. Dit vat al my moed en wilskrag om nie op 'n hopie te gaan lê en vrek nie, maar om die kar met haas na te laat kyk. Want dis natuurlik die dag voor die Paasnaweek. Hoe dan anders? Geweldige skade.

So wat doen mens daaraan?

Wel, as jy soos ek is, vreet jy. En hier is nie veel anders om te eet as brood nie. Gelukkig (ongelukkig) hou ek vreeeeeslik baie van brood. Ek lyk al soos een! Kyk gisteraand af na my kuite en enkels (die enigste deel van my lyf wat my nog nie in trane laat uitbars het nie) en... bars omtrent in trane uit.

Daar waar my enkels was, is nou sulke vreemde sakke. Waar de hel kom dit vandaan? En my kuite is nie meer gevorm nie, dis sulke pap lemoenskil-deeg-goeters.

Die gruwelike skok dryf my natuurlik terug kombuis toe. Asem 'n stuk brood met konfyt omtrent heel in. Dit help so bietjie, maar my balans is nog nie op standaard nie. Eet 'n lepel peanut butter. Voel effe beter. Kyk weer af om die kuit-enkel-situasie objektief te bekyk. Hyg. Eet nog 'n lepel peanut butter. Shit...

Dankie tog vir my mense! Darem een manier om sane te bly. Want dis wragtig nie altyd maklik nie... En if nothing else, is daar altyd iets op die internet wat 'n mens se dag maak. Soos hierdie een:


Hier's nog een:



Mag dit die eerste en laaste jeremiade wees wat op hierdie blog verskyn.

I bid you good night...