Popular Posts

Saturday, 29 March 2025

Verkeerde kant van 50. Maar by die see.

 Mense. 

Daar is dit 'n volle dertien jaar later. Dertien jaar!!!

Gryser. Dikker. Ongeduldiger. 

Hier volg 'n vinnige opsomming van die tussenin-tyd:

* Gielie is 'n tiener. Die dierbaarste tiener seker in die geskiedenis. Myne. So trots op hom!

* Grootgiel is nie meer met ons nie - Delta was 'n bliksem. 

* Soveel van my mense is weg - mense wat deel was van my.  

* Vriendin Levinia trou met Driek. Mens vergeet hy was meer onlangs eers deel van die bende. Wat 'n gawe man. 'n Man van inbors.

* Die huis wat uitmekaar geval het waaroor ek so gemoedsbekakking in die vorige jeremiade gehad het, val seker steeds uitmekaar. Ek is net nie meer daar om dit te beleef nie. Ek het my kind en my ma gepak en afgesit kus toe. Beter weer vir die oneindige gloede. Jy sien, nie meer net op pad middeljare toe nie, waarskynlik nou met 'n gejuig gearriveer!

O, ons was toe op die trein. Op daardie Vadersdag. Ek wou vir ons 25e herdenking weer, maar die trein het intussen afgetree. Sug. En daar was nie 'n 26e nie...



Ek mis baie dinge van my vorige lewe - die kere wanneer ons hoed-en-handsak en make-up aansit vir ons kermisse. Ons vasvra-aande by sus Meraai of een van die gemeenskapsale. Die gaan-maak-vinnig-'n-draai by familie en vriende. Enige iets wat in die aand gebeur - want ek werk nou tot in die nanagte. 

Maar ek gaan steeds nie terug nie. Hier gaan dit ook lekker!

Ek het die konsertina afgestof en speel nou in die beste boereband. Wanneer die donkielong nie hyg nie, sing ek saam met die Briels-tribute band. Ons tree op al langs die Tuinroete. As jy graag bietjie wil skoffel, kom kyk een van ons konserte. Ons dra swart soos die Grafsteensangers. Baie fênsie!

Hierdie uit-die-bloute geskribbel gebeur oor 'n skokkende affêre wat ons onlangs geruk het en my laat dink het aan die laaaang-terug voorspelling van vriendin Levinia. Op haar geskribbel. Want sy hou van pasteie en weet dinge. En al daai tyd gelede het sy geweet wat SAPS en die FBI nou weet. Kon net nie bewys nie. En uit daardie walging spruit hopelik 'n nuwe lewe in skribbels om ons lewens neer te lê in die ruimte. Al lees niemand behalwe onsself dit nie.

Ter afsluiting iets giggel wat ek vanoggend raakgelees het. 

Tot volgende keer!





No comments:

Post a Comment