Popular Posts

Friday, 3 July 2026

Ouderdomme - maak nie saak nie, behalwe emosioneel

 Daar verjaar Groot Giel toe op 30 Junie, 'n paar weke na my verjaardag. 

No biggie né. Maar selfs met dit hierdie verjaardag van hom is hy steeds nog nie eers op die volgende mylpaal wat NET SESTIG is nie. Hoe op die liewe aarde is my man so jonk weg? En hierdie jaar sou ons 30 jaar getroud gewees het. Ek is nou so oud soos hy was toe hy gegaan het. Dit voel net nie reg nie.

So die aanloop was nogal seer-erig. Die 30e herdenking het my effe depro by die orkesoefening gehad. Pêrels. Want oorlat. Want hy is dood in die jaar van ons 25e wat 'n groot genoeg storie is om 'n ding te hê. Silwer. En hy het moeite gedoen. Ek het nie vir hom enigiets gekry nie - want ons het baklei sien. En dinge was nie wonderlik nie. Nie baie mense weet nie. En dit was GROOT gif. En toe gaan hy dood. En ek sit met elke gevoel op die planeet, want ek was (en is) wragtig lief vir die man.

En toe verjaar ek. En ek is en voel gesond, al is ek so rond soos 'n balie en grys en onfiks en alles. Ek was sommer moerig. Wat besiel die man om op 52 te dooi? Mens voel nog fine! 

En toe verjaar hy. En die aanloop na dit was 'n gedroom soos jy nie kan dink nie. Waar hy die hoofrol speel. Nag na nag. Nie dat ek vreeslik baie slaap kon inkry nie, want ek het nog ander drama ook. En die stres RY my. Maar ek grens te lekker oor die man ook nog.

En ek kon nie met sy ma oor al hierdie praat nie, maar sy sus darem so bietjie. En sy het hom ook baie verlang. En 'n ou ietsie bymekaar gesit as herdenking aan hom. En dit was net reg.

Ek hoop jy het lekker verjaar my man. Ek mis jou so verdomp baie.



Thursday, 1 January 2026

Kersfees, feesseisoen en waar de hel is 2025 so vinnig heen?

 Baie mense hou nie van Kersfees nie.

Ek is nie een van hulle nie. Ek is een van daardie mense wat voel 'n huis moet vol kersversierings en liggies en kranse en bome wees. Ek het sommer drie bome. 




Dan is dit familiekuiers. Ek hou regtig nogal baie van my familie. Dit is vir my feestelik om met almal te kuier en te lag. So werk ek natuurlik ook my alie af, want ek nooi gulhartig en kry nie einde nie.

Hier by die kus kom kuier familie graag. So ons ryg die kers-kuiers in soos besete mense. En ons werk HARD. 


Die eerste kers-kuier vind plaas in Stilbaai en raak sommer 'n driedag affêre. Daar word gereed gemaak vir 30 mense, hoewel in ons familie van overdaad daar genoeg te vrete was vir 80. Donderdag vat ons die pad terug, skoon stil en besadig. Vrydag te moeg om iets te doen en maar bitter swaar gewerk, maar die beplanning was om tussenin te begin gereed maak vir die kers-kuierbeurt by ons. So is my arme moeder die een om 'n spyskaart vir vingerete uit te dink vir ons kersete wat laas Sondag plaasgevind het. Ons het Saterdag tussen my gewerkery gespring om als gereed te kry en Sondag het ek al 05h30 al begin koekies smeer, poffers vul, borde pak, ens.

Mens. Ons het gebras soos jy nie kan glo nie. Die tafel het behoorlik gekreun. Ons het gelag en gekuier die ganse dag lank. Die mense is donker huis toe, en hier in die Kaap word dit laat donker op 21 Desember!

Hier is 'n klein hoekie van die bras-tafel.


Nou ja. Dinsdag is ons vort Glentana toe vir die volgende Kersete - burger braai. Maar nie sommer hierjy burgers nie. Nee, fênsie goete soos ingelegde rissies en kase met snaakse name. En wyn. Altyd wyn. Ons IS in die Kaap nè. 

Donderdag, op Kersdag, is die ete in Groot-Brakrivier. Tafel te pragtig gedek, see (en rivier en berge) in die agtergrond, en tafels wat alweer KREUN onder alles wat lekker is. Speletjies gespeel, gekuier, gelag, en natuurlik opgeëindig in die water. 


Mens sou dink dis genoeg? Maar nee, Saterdag was die vaarwel-braai. Familie op pad terug oor die Vaal, sien. So weereens skoon stil gesmul en al kreunend huis toe gery.


Vandag is 1 Januarie 2026. 'n Splinternuwe jaar. Ek het wraggies net een voorneme, en dit is om elke dag dankbaar te wees.


Ek hoop 2026 is vir elkeen 'n jaar van oneindige liefde en voorspoed en vreugde!