Baie mense hou nie van Kersfees nie.
Ek is nie een van hulle nie. Ek is een van daardie mense wat voel 'n huis moet vol kersversierings en liggies en kranse en bome wees. Ek het sommer drie bome.
Dan is dit familiekuiers. Ek hou regtig nogal baie van my familie. Dit is vir my feestelik om met almal te kuier en te lag. So werk ek natuurlik ook my alie af, want ek nooi gulhartig en kry nie einde nie.
Hier by die kus kom kuier familie graag. So ons ryg die kers-kuiers in soos besete mense. En ons werk HARD.
Die eerste kers-kuier vind plaas in Stilbaai en raak sommer 'n driedag affêre. Daar word gereed gemaak vir 30 mense, hoewel in ons familie van overdaad daar genoeg te vrete was vir 80. Donderdag vat ons die pad terug, skoon stil en besadig. Vrydag te moeg om iets te doen en maar bitter swaar gewerk, maar die beplanning was om tussenin te begin gereed maak vir die kers-kuierbeurt by ons. So is my arme moeder die een om 'n spyskaart vir vingerete uit te dink vir ons kersete wat laas Sondag plaasgevind het. Ons het Saterdag tussen my gewerkery gespring om als gereed te kry en Sondag het ek al 05h30 al begin koekies smeer, poffers vul, borde pak, ens.
Mens. Ons het gebras soos jy nie kan glo nie. Die tafel het behoorlik gekreun. Ons het gelag en gekuier die ganse dag lank. Die mense is donker huis toe, en hier in die Kaap word dit laat donker op 21 Desember!
Hier is 'n klein hoekie van die bras-tafel.
Nou ja. Dinsdag is ons vort Glentana toe vir die volgende Kersete - burger braai. Maar nie sommer hierjy burgers nie. Nee, fênsie goete soos ingelegde rissies en kase met snaakse name. En wyn. Altyd wyn. Ons IS in die Kaap nè.
Donderdag, op Kersdag, is die ete in Groot-Brakrivier. Tafel te pragtig gedek, see (en rivier en berge) in die agtergrond, en tafels wat alweer KREUN onder alles wat lekker is. Speletjies gespeel, gekuier, gelag, en natuurlik opgeëindig in die water.
Mens sou dink dis genoeg? Maar nee, Saterdag was die vaarwel-braai. Familie op pad terug oor die Vaal, sien. So weereens skoon stil gesmul en al kreunend huis toe gery.
Vandag is 1 Januarie 2026. 'n Splinternuwe jaar. Ek het wraggies net een voorneme, en dit is om elke dag dankbaar te wees.
Ek hoop 2026 is vir elkeen 'n jaar van oneindige liefde en voorspoed en vreugde!


.jpeg)
.jpeg)

No comments:
Post a Comment