Popular Posts

Saturday, 18 October 2025

Erf... Erfenis... Whatever.

 En so is daar nog een van Groot Giel se kitare weg. 

Maar hierdie een moes ons huisie by die see gekoop het. En nou het dit skaars meer as een maand se huur ingebring. Want Giel het nie klaargekry met die ding nie, sien.

Die storie loop so, Giel en sy vriend Flip het albei kitare versamel. En daar was 'n tweeling kitare van die jaar toet wat hulle toe aanskaf - een elk. Maar daar was baie werk nodig, want die twee het erg skade gely waar hulle gestoor was. Giel het besluit om sy tyd te vat en dit REG te doen. Hy het net nie geweet hy wil meer tyd vat as wat hy gehad het nie. En nie my woord of Flip se woord is genoeg om 'n kitaar te verkoop op blo nie. Net wat jy kan bewys. Daar gaan die kitaar vir presies 8% van sy waarde. 

Dit was 'n seer een. 


Daar is hy - binnegoed in die kas gebêre, en nou by sy nuwe eienaar. 


Maar die hoop beskaam nie - vroeër die jaar is my eertydse buurman en vriend ook weg. Dit het hard geslaan - en ek het besef dat tyd kosbaar is en ons dink altyd ons het baie oor - maar wie weet?? Daardie aand, 'n hele paar hanepote sterk, vertel ek vir almal wat wil luister dat ek, voor hierdie jaar verby is, 'n plek gaan koop. My eie plek, sodat Gielie ook 'n erfenis het. En môre wat môre is gaan ek bietjie kyk na 'n paar opsies. Ek sal kom rapporteer.

Maar ek weet nie mooi hoe nie - sal maar moet kyk. Die pryse is mal sedert die kitaar 'n plek kon bekostig. Ek kan maar net voortgaan in optimisme, want aan die ander kant hel ek in die donkerte in. En dis nie 'n mooi plek nie...


My Pa sou vandag 80 jaar oud gewees het. Maar hy het lankal heengegaan, al 10 jaar terug, selfs nog voor hy 70 gesien het. Ai. Vandag dink ek so aan tyd en almal wat te vroeg heen is. Happy happy Pa. 




Vriendin Trien was deur 'n afgryslike ding hierdie jaar - 'n enorme gewas is uitgesny, sommer saam met 'n spul binnegoed ook. Sy is gelukkig daardeur en gesond. Maar vriendin Mart word toe wraggies ook gediagnoseer en sy baklei hard. Ek hoop sy wen hom... 


Mag elkeen van ons ons tyd waardeer. En tyd maak vir ons mense vir wie ons lief is.


"Your time is your life. That is why the greatest gift you can give someone is your time." (Rich Warren)