Popular Posts

Sunday 13 May 2012

Moedersdag

Hello hello hello...

My eerste moedersdag.

Ons sou met die stoomtrein gaan rondrits het, maar in die Hogenboesem-tradisie het ons hopeloos te lank gewag om kaartjies te koop en was daar nie meer plek vir ons ou spulletjie nie. Nou doen ons dit maar op vadersdag. En dis nog laaaaaaaaaank....

Vanoggend maak Gielie my half-vier wakker. Weet jy! Dis al erg genoeg dat my gewone opstaantyd deesdae tussen vieruur en vyfuur is, maar daai 30 minute maak darem 'n enorme verskil. Grootgiel lê natuurlik salig en snork en weet van mooi niks. 'n Welgeplaaste elmboog het dié saak reggekry. Na  gedrink en gekalmeer het, prewel ek iets van 'moedersdag' en draai om. Grootgiel moes toe maar op en met klein Gielie gaan speel.

'n Uur of  wat later kry ek koffie en broodjies in die bed! Wat baie sê van Grootgiel se geaardheid. As dit ek was wat so seremonieloos uit die katel geskop was, was ek die ganse dag bedonderd.

Maar wat...

Terloops, dit was toe ook die laaste van bederf. Die res van die dag was ek òf voor die stoof, òf voor die wasgoeddraad / wasmasjien, òf agter die rekenaar besig om te werk. Draai toe maar 'n redelike blegherige dag uit. As die naweek tog net nog een ou daggie langer was...

Gister was dit 'n groot winkeldag vir my en Gielie, my sus, my ma, my tannie en my kleinniggie. Vreeslik lekker, vreeslik uitputtend, vreeslik duidelik hoe geweldig bankrot ek is. Na 'n lang dag, en met geleidelik al hoe minder vriendelike versoeke van die winkelpersoneel dat ons asseblief maar moet huiswaarts keer, strompel ons die parkade in. En daar kry ek my kar nêrens nie. Ag hemel, dit was 'n gespook en 'n gesoek, na'and 'n gevloek en 'n gekners van tande. Stikdonker nag voor die blessitse ding opgespoor was. En ek het nie eers een ou dingetjie vir myself gekoop nie. Die naaste wat 'n ding my gatlangs bedek het, was die snit van so aard dat ek moes kies of ek wou sit of asemhaal.

En dit bring my by die groot kwelkwessie wat my geweldig pla sedert die weer effe begin afkoel het.

WAT DE DONDER GAAN AAN MET DIE DENIMS?????

Die opsies is as volg:
1. Band direk onder boesems of direk bokant waterlyn.
2. Broekspype bitter nou of gruwelik nou of gangreen-vormend nou.
3. Broekspype bitter nou om bobene en klok so wild uit, dat jy soos 'n dikgat-meermin lyk.
4. Wyd direk onder boude sodat daar plooie sit om nog meer aandag op die probleemarea te vestig.
5. Onbekostigbaar of 'is jy flippen mal?'.

Ek het vandag maar vir my 'n dikgat-meermin-nommertjie gekoop. Dit was maar die beste opsie, want ek het sweerlik niks om my lende mee te bedek nie. My sus teem aan my om maer te word sodat sy van haar splinternuwe goed kan oorgee (want sy lyk darem deesdae so goed!!), maar ek word net al hoe dikker. En ek kan dit nie blameer op hormone of skildklierprobleme of enige so iets nie. Dis maar net eenvoudig ek wat knaend kou. (Vandag se wengereg was sjokoladepoeding met room... Ek voel hoe kreun my vetselle.)

Ek gaan nou die ding modelleer vir Grootgiel voor ek die price tags afhaal. As hy bereid is om in die publiek saam met my te verskyn as ek daai ding aanhet, sal ek hom maar hou en aantrek. As ek 3 seisoene lank met denims kon rondloop wat eintlik te kort was, kan ek maar seker met 'n ding rondloop wat my laaste goeie lyfeienskap wegsteek. En dan gaan ek slaap, want as ek sien hoe onrustig Gielie slaap, vermoed ek ons is tweeuur weer vrolik aan die gang.

Sal volgende keer 'n foto of twee opsit. Is net eenvoudig nie nou lus nie.

Toooooorelooooo!

1 comment: